article · Tydskrif vir Geesteswetenskappe
Die politiese en sosiale omgewings waarin leerders met gestremdhede leef, veroorsaak dikwels meer beperking van die individuele vermoëns van dié leerders as die gestremdheid self (Capri et al., 2018:2). Eweneens word wiskundige denke vir leerders wat verstandelik erg gestremd is dikwels tot konkretisering en memorisering beperk, wat neig om begrip te ondermyn. Hierdie studie is onderneem teen die agtergrond van 'n tekort aan metodologiese riglyne vir die onderrig van wiskunde in die nuwe aangepaste kurrikulum vir leerders wat verstandelik erg gestremd is. Konteksryke wiskundetake ter ontwikkeling van wiskundige denke by leerders wat verstandelik erg gestremd is, is tydens die studie gebruik. 'n Kwalitatiewe navorsingsbenadering is gevolg waarin empiriese data gegenereer is deur middel van drie aksienavorsingsiklusse. Data is deur semi-gestruktureerde fokusgroep-onderhoude, veldnotas, 'n literatuuroorsig en leerderwerk ingesamel. Die literatuuroorsig is onderneem om 'n onderrig- en teoretiese raamwerk vir die studie te skep. Vygotsky (1978:6) se sosiokulturele teorie is as teoretiese raamwerk gebruik omdat dit die belangrikheid van sosiale interaksies en bemiddelde leer uitlig. Die Realiteit, Abstraksie, Wiskunde en Refleksie (RAWR)-onderrigraamwerk van Cooper en Carter (2016:177) word as didaktiese raamwerk vir 'n praktiese aanslag tot wiskundeonderrig in die studie aangewend. Volgens die data van die fokusgroeponderhoud met vyf opvoeders, beskik leerders met intellektuele gestremdheid oor beperkte getalbegripkennis. Dié opvoeders het ook aangedui dat hul keuse van leertake slegs getalfeite, rekenvlotheid, memorisering en onderrig met konkrete apparaat insluit. Data uit die fokusgroeponderhoud met twee wiskundespesialiste wat in spesiale onderwys werksaam is, het opvoeders in die navorsingskool se beperkte didaktiese kennis vir wiskundeonderrig aan leerders wat verstandelik erg gestremd is, uitgewys. Gebaseer op hierdie data is 'n onderrigingreep ontwerp en vir ses maande geïmplementeer. Die tien leerders wat by die onderrigingreep betrek is, se geleefde ervaringe is as agtergrond by wiskundeprobleme ingesluit om konteksryke take te ontwerp. Die riglyne wat uit die navorsing spruit, het tot gevolg dat lewensegte kontekste waarin wiskundige probleemtipes ingebed is, nuttig gebruik kan word in gespreksryke leerervarings vir leerders wat verstandelik erg gestremd is. Só 'n benadering het die potensiaal om wiskunde vir leerders wat verstandelik erg gestremd is meer betekenisvol te maak, hulle beheersing van kontekste te verbeter, en kritiese denke te ontwikkel. Bevindinge uit die aksienavorsingsproses kan aangepas word vir soortgelyke wiskundeonderrigpraktyke.
This page summarises published work. The authoritative version sits with the publisher.
DOI: 10.17159/2224-7912/2024/v64n2a4
Is something wrong with this record? Report it or request removal.
Discussion
Have you built on this work, tried to replicate it, or seen it applied in practice? Share what you know. Verified researchers and MARATTO™ domain experts can open a discussion, and any member can reply. Contributions are reviewed before they appear.
No discussion yet. Open the first thread.
New to MARATTO™? Create a free account.